Manie Jackson - Country en Afrikaanse Sanger - Liedjieskrywer
AGTERGROND
Manie Jackson is gebore op 30 Desember 1979 in Pretoria. Sy skoolopleiding ondergaan hy aan die Voortrekker Laerskool in Pietermaritzburg en die Hoërskool Wolmaransstad.
Hy het 'n dogter, Iloné, gebore 2004.
Sy talente het reeds op skool begin wys toe hy in standerd 8 'n gedig die lig laat sien het, waarmee hy dan ook 'n prys verower het. Die gedig, Die Lewe, is in 1995 gepubliseer in die digbundel Die Fakkellig. Verdere eer kom hom toe toe dit ook die daaropvolgende jaar as voorgeskrewe werk vir standerd 8 leerlinge by die hoërskool Wolmaransstad gebruik word.
Hy het selfs vir sy skool drie atletiekliedjies gekomponeer. Sy liefde vir musiek is gebore
uit sy aanhang vir kunstenaars soos Bles Bridges, Carike Keuzenkamp, Rina Hugo en Elvis Presley.
SANGLOOPBAAN
In Augustus 1997 maak Manie Jackson sy debuut op die verhoog tydens die landswye Tahila-talentkompetisie in Johannesburg. Hierna het hy aan verskeie ander kompetisies deelgeneem o.a. Overvaal Stereo se landswye talentkompetisie, waar hy dan ook die eerste plek vir eie komposisie behaal het met die snit Pappa Waar Is Jy? Verder het hy 'n tweede plek behaal in die kategorie Mans-Solo, en 'n derde plek in die kategorie Algehele Wenner. In 1998 word Manie se debuut-CD vrygestel getiteld Wie Sal Weet? Die album lewer ses eerste plekke, twee tweede plekke en twee vierde plekke op by verskeie radiostasies se treffersparades, o.a. IFM 102.2, Overvaal Stereo en Radio Pretoria. Die snit Platsak is ook deur Radio Pretoria gebruik as kenwysie vir hul finansiële program. Die lirieke daarvoor is deur Manie self geskryf.
In 1999 word Manie aangewys as IFM se Countrysanger van die jaar en deel ook die toekenning as Algehele Country Kunstenaar van die jaar met Bobby Angel. Hy ontvang ook die toekenning vir die Countrytreffer van die jaar met sy weergawe van You're The Reason. Later die jaar word sy tweede CD ook vrygestel getiteld My Lied Vir Jou. Vanaf hierdie album behaal hy ook verskeie eerste plekke op die genoemde gemeenskapsradios.
Uiteindelik is daar weer ‘n stem om opgewonde oor te raak! Hier is Manie Jackson met sy eerste Select-album! Hy sing country, hy sing pop, hy sing ballades, hy sing dansnommers…
Kortom: hy kan en mag maar sing! Hy doen dit jare al en met daardie volronde stem het hy talle musiektoekennings verdien. Nou kry die hele land die geleentheid om sy stemgehalte en vertonings te geniet.
Die repertoire is saamgestel uit Europese melodieë wat die volle omvang en krag van sy stem (van suiwer tenoor tot ryk bariton) ten toon stel - met Afrikaanse, luistergerigte lirieke deur Sarah Theron, Neil Schoombee, Don Kelly en Manie self.
Daar gaan gejol word op Laat die mense praat, Ek begeer (jou elke keer net meer) en Vonke spat, gelangarm op Julia, Hier is my hart (Amorè Amorè) en Jy het my hart verlei, gewals op Bring die sterre nader en Onthou die eerste keer en gejodel op In Suid-Afrika kraai paartie koning of hoe? (met die vreugde van konsertina!).
Hy streel met die ballades Die hemel weet, Totsiens is nooit verniet, Hande, Engele en Kom laat my weer lewe. In Engels wys Manie met sy vertolking van Dennis East se komposisie The trouble with love waarom countrypop sy fortè is!
Sedert die vrystelling van diè album het Manie die byna onmoontlike vermag om binne drie maande goue-status daarmee te bereik, en die album is sterk op pad na platinum! Verskeie radio- en televisietreffers is ook opgelewer… so het Julia vir 10 weke die nommer-1 posisie beklee op RSG se Groot 5; Die hemel weet was vir verskeie weke nommer-1 op talle
gemeenskapsradiostasies, waaronder Overvaal Stereo, Radio Houtstok, Bay FM en IFM 102.2.
Manie se twee video-opnames van Die hemel weet en Julia is ook gereeld te sien op die kassie. En daarby het hy ook nou al drie verskynings op TV gemaak, en dit in die programme DKNT (sy album kuier al vir weke op die Top 10!), Jukebox en Opskop. Manie het ook sopas die SAMA-toekenning in die country-genre verower, en daarby ook nog vriend en vyand verras
toe sy album “MJ” na slegs tien maande platinumstatus bereik!
Hy het beslis sy merk gemaak en het reeds Sterstatus, en kan deesdae nie voorbly met optredes by verskeie funksies, klubs en nasionale feeste nie. Sy optredes is ook gemik op oud en jonk, en bevat verskeie musieksoorte, om aan almal se smaak te voldoen! Geniet musiek wat opkikker; boonop deur ‘n stem vertolk wat die passie van musiek tot sy reg laat kom! En sy nuwe album “Liefde en Genade” is sopas uitgereik en beloof groot dinge!
Besoek my facebook blad:
Webwerf Ontwerp en Geborg deur: Vaal Venues